AfriForum | Joernalis en mediaskakelbeampte
Description
Hierdie is ’n permanente pos en is in Kloofsig, Centurion, gebaseer.
Om vir die pos in aanmerking te kom, benodig jy ’n toepaslike kwalifikasie binne ’n kommunikasie- en/of media-omgewing. Ervaring en kennis van gemeenskapsbetrokkenheid en -ontwikkeling sowel as ’n sterk aanvoeling vir nuus, taal, skryfwerk, redigering, vertaling en skakelwerk sal in jou guns tel. In ’n toenemend veranderende media-omgewing moet die posbekleër oor kennis van en ondervinding in die gebruik en benutting van nuwe media- en sosialemediaplatforms beskik om bepaalde teikengehore te bereik en inhoud te verpak.
Vaardighede en eienskappe wat tot jou voordeel sal strek, is uitstekende taal-, kommunikasie- en onderhandelingsvaardighede; goeie interpersoonlike en aanbiedingsvaardighede; goeie tydsbestuur; administratiewe en organiseringvaardighede; goeie prioritiseringsvermoë; die vermoë om goeie menseverhoudinge te handhaaf; uitstekende skryf- en onderhoudvoeringvaardighede en rekenaarvaardighede. Kennis van basiese foto- en videografie sowel as videoredigering vir kort nuusvideo’s sal ook voordelig wees.
Die pos behels onder meer deurlopende skakeling met die media; die samestelling en verspreiding van mediaverklarings en -uitnodigings, nuusbriewe en ander kommunikasie op interne en eksterne platforms; die skryf van akkurate en treffende nuusartikels vir die organisasie se ledetydskrif en ander platforms; die beplanning, verfilming en redigering van video-inhoud; verteenwoordiging van die organisasie by mediageleenthede; die toepassing van mediaplanne en -strategieë; en die bou van verhoudings met joernaliste.
Die posbekleër sal as deel van die mediaspan ook verantwoordelik wees vir die organisering van mediakonferensies en die koördinering van media-afsprake en onderhoude tussen joernaliste en AfriForum se woordvoerders. Die byhou en bywerking van ’n mediakontaklys, asook noue skakeling met verskeie afdelings binne AfriForum en die Solidariteit Beweging sal ook deel van die posbekleër se kernverantwoordelikhede wees. Die posbekleër sal ook ’n groot verantwoordelikheid hê ten opsigte van die beeld van die organisasie.
Sign in to read and join the discussion.